Dokters en medikasie: Is die sluise oop vir eise?

27 January 2013 440

Dokters skuif ongemaklik in hul stoele rond in afwagting van die howe se toepassing van die skuldlose aanspreeklikheidseise waarvoor voorsiening gemaak word in die Verbruikersbeskermingswet (‘die Wet’).

Die kontroversiële artikel 61 van die Wet maak vir die eerste keer in Suid Afrika voorsiening vir die konsep van skuldlose aanspreeklikheid regoor die verskaffingsketting. In kort kom dit daarop neer dat die verbruiker, wie skade gely het weens ‘n defek of gevaar in ‘n produk of verskaffing van ‘n onveilige produk, die reg het om enige persoon of instansie binne die verskaffingsketting te dagvaar sonder om nalatigheid te bewys. Al wat die verbruiker hoef te bewys is dat die produk gevaarlik of gebrekkig was en dat hy skade gely het as gevolg daarvan.

Volgens baie se siening is die toepassing van hierdie bepaling eenvoudig. Indien die dokter vir sy pasiënt medikasie voorskryf wat gevaarlik of gebrekkig is of nie na wense werk nie en die pasiënt skade ly, sal die dokter moet pa staan vir skade veroorsaak. Maar is dit werklik so eenvoudig? Om hierdie vraag te beantwoord sal mens die stetoskoop moet uithaal en die Wet fyn ontleed.

Dis duidelik dat ons howe ‘n lydende rol sal moet neem om die aanspreeklikheid van dokters in terme van die Wet vir die medisyne deur hom/haar voorgeskryf te help uitklaar. Die volgende sal in die verband in ag geneem moet word:

  • Vorm die dokter wie bloot medikasie voorskryf deel van die verskaffingsketting? Dokters sal hier sterk kan argumenteer dat hulle bloot ‘n aanbeveling maak op grond van ‘n diagnose. Met voorskrif in hand kan die pasiënt altyd steeds besluit na welke apteek hy gaan, of hy die generiese alternatief gaan neem en of hy enigsins die voorskrif gaan of wil gebruik.
  • Kan kliniese medikasie gesien word as “gevaarlik” of “gebrekkig” in die lig van die aard daarvan en bedoeling van die Wet? Medikasie word streng gereguleer en slegs goedgekeurde (geregistreerde) medikasie word verskaf aan verbruikers. Medikasie het ten doel om ‘n sekere relatiewe terapeutiese gevolg daar te stel, met inagneming van die aanvaarbare moontlike newe-effekte daarvan. In die lig hiervan kan argumenteer word dat alle medisyne tot ‘n sekere graad as gebrekkig en gevaarlik gesien kan word. Hoe nou? Die verdere vraag wat dan hier ontstaan is of ‘n foutiewe diagnose en voorskrif deur ‘n dokter die medikasie gebrekkig of gevaarlik maak? In so ‘n geval sal die dokter waarskynlik eerder aanspreeklik gehou word op grond van nalatigheid en nie noodwendig op die basis van skuldlose aanspreeklikheid nie.
  • Redelikheid? Die Wet maak voorsiening vir ‘n regverdigingsgrond van redelikheid vir dokters. Die vraag wat beantwoord sal moet word is of dit redelik is om die dokter aanspreeklik te hou vir gebrekkige of gevaarlik medikasie gegewe die se rol in die verskaffingsketting. Dit mag moeilik wees om ‘n dokter aanspreeklik te hou gegewe hul tradisionele rol om bloot medikasie voor te skryf.
  • Verdeling van blaam? Die Wet gee die howe die mag om aanspreeklikheid te verdeel binne die verskaffingsketting. Hierdie bepaling mag ook in die guns van die dokter tel deurdat howe die blaam vir gebrekkige of gevaarlike medikasie moontlik eerder na die vervaardiger en verspreider van medikasie mag gooi.

Ons sal moet wag en sien hoe die howe die vrae hierbo gaan beantwoord, maar ‘n mens vermoed dat die Wet waarskynlik ‘n beperkte toepassing sal hê op dokters en die voorskryf van medikasie. Die Wet mag wel hoër pynvlakke veroorsaak vir aptekers, medisyneverspreiders en –vervaardigers en die uitsprake van ons howe gaan hoogs relevant wees vir hierdie lede van die verskaffingsketting.

Ter afsluiting is dit belangrik om daarop te let dat alhoewel die Wet in die omstandighede hierin bespreek moontlik beperkte toepassing sal vind op dokters, dokters steeds aanspreeklik gehou kan word vir tradisionele gemeenregtelike siviele eise sou hulle nie soos ‘n redelike dokter optree by die voorskryf van medikasie nie.

Share: